Archive for April, 2006
Unfavourite Movie Moment I

So besluit ek vanaand om maar die 90 krone vir ‘n fliek uit te grawe en kyk V for Vendetta. Die poster movie vir “Battered Women Anonymous”. Soos dit enige lid van die massas betaam, dink ek ook die toneel waar hulle Big Ben opblaas is wonderlik. Maar “V” martel vir Evey – hy martel haar – soos in torture. En sy reageer deur hom op sy plastiek masker te soen. Sug.
4 comments April 28, 2006
Yinyang blog

Op die briljante (dog pretensieuse) COI verwys die skrywer na ’n artikel waarin iemand sê bloggers moet die waarheid in die gesig staar: jy gaan nooit daardie novelle skryf nie.
Ek self het geen ambisies om ’n boek te skryf nie (behalwe miskien ’n pink boekie, alla Tannie Maretha). Tog het dit hierdie wonderlike inspirasie-partikel in my kop laat land: ek dink blog is die nuwe novelle. Op eg postmoderne wyse.
Weereens moet ek hier daarop wys dat ek nie veel weet van postmoderne letterkunde nie. My enigste ervaring daarvan is André Letoit se Suidpunt Jazz en iemand anders se Zappi en die kuns van postmoderne studentelewe.
Maar ’n blog is ’n totaal interaktiewe medium met ’n lewe van haar eie, wat groei, ontwikkel, vorm aanneem en soms selfs tragies sterf (gaan spandeer gerus ’n stil minuut by Appel se blog). Soos enige goeie novelle (of sepie) bevat dit gewoonlik intrige, ontknoping, selfs melodrama.
Ek sal nie so ver gaan as om te sê my blog het postmoderne novelle status nie. Daarvoor is daar te veel posts wat geen ander punt, nut of funksie het as gewoon die feit dat dit vir my heerlike plesier verskaf nie (soos bv hierdie een, wat my tone laat krul van lekkerkry).
Ek hou egter van die idee van die blog as die nuwe novelle. Dit laat my slim en erudiet (dankie prof) voel.
[Die prentjie is nie myne nie. Ek het dit gekry op die dikwels vermaaklike, soms pornografiese http://go.funpic.hu]
4 comments April 27, 2006
Vir wie dit mag aangaan
My gunsteling condiment:
Jy gooi dit oor alles.
Behalwe koeksisters
En sushi. Daarvoor kry jy wasabi.
9 comments April 26, 2006
Laatnag Joernalisme
In my prulle jeug was daar diegene wat gedink het ek het potensiaal. So nooi hulle my (en ‘n paar ander potensiëles) na Bloemfontein. Deel van die vermaak was ‘n toer van Die Volksblad. Ons kon sien hoe ‘n koerant gebore word.
En dit is die somtotaal van my kennis van joernalistiek. O ja, en die wyshede wat my broer, ‘n eks-joernalis, kwytraak.
Maar het joernaliste nie sub-editors of iets of iemand wat goed proeflees voordat hulle dit op die voorblad van, sê bv, News24 sit nie?
Two ‘cheating’ wives murdered bassuin News24 se hoofberrig. En gaan dan voort om ons te vertel van ‘n 34-jarige man (34, herhaal hulle, ingeval jy dit die eerste keer gemis het) en ‘n vrou wat vermoor is.
Ek is nie van die soort wat dink my span verdien ‘n boontjie elke keer as ek ‘n fout raaksien nie. Ek verstaan van laat nagte, deadlines, multitasking. Maar ek was regtig onder die indruk dat iemand betaal word om seker te maak dat ek – die niksvermoedende publiek – nie die ressultate van laat nagte, deadlines en multitasking kan raaksien nie. Oh well.
1 comment April 25, 2006
Goodbye and thanks for all the fish
Hier is my Skype Weemee:

Dit is ’n redelik akkurate selfportret (soveel as wat enigiets in hierdie formaat ’n selfportret kan wees. Enigiemand wat my goed ken, sal egter kan sien dat dit ’n selfportret is). Tog is daar diegene – gewoonlik die wat my nie so goed ken nie – wat wil weet hoekom ek dan nie op die aarde is nie? Natuurlik is daar die hele verbintenis wat vroue met die maan het, asook ’n vae oorblyfsel van my Wiccan dae.
Maar dis hoofsaaklik omdat ek glo ek is op die verkeerde planeet gebore. Of dalk die regte planeet, maar die verkeerde era. Ek kan eenvoudig nie aanvaar dat die inwoners van hierdie planeet moet wees soos wat ons is nie.
Nataniël het ’n kortverhaal geskryf wat nog altyd diep tot my spreek. As ek nou in SA was, kon ek mooi gaan soek wat die storie se titel is en presies hoe dit verloop. Maar op die internet vind mens net plagiatiese platvloersismes wat aan Nataniël toegedig word. Elkgeval, die kortverhaal: dit gaan oor iemand wat van geboorte af gevoel het hy hoort nie tussen hierdie mense nie. So ontdek hy eendag ’n kelder in die winkel waar hy werk. Hy koop massas blikkies tuna en trek in die kelder in, om daar sy lewe te spandeer, weg van die wêreld wat so wreed is, waar hy eenvoudig nie inpas nie. Lank daarna lei die reuk van tuna daartoe dat iemand hom vind. En nog iemand in die winkel oorkant die straat. En nog iemand in die winkel in die pad af. En nog iemand…
Hier is ek nou in Swede. In die stad wat al twee keer die prys gewen het vir die mees gay-vriendelike stad in Swede. Sekerlik so na aan die hemel as wat mens op aarde kan vind, hier net onder die Arktiese Sirkel. Behalwe…
Hier, in Swede, het ek al rassisme (teenoor die Sami), xenofobie, homofobie en (my persoonlike gunsteling) seksisme teegekom. In Swede, damnit! Is daar dan géén plek op hierdie planeet (behalwe ’n kelder onder in ’n winkel) waar mense veilig is van mekaar nie?
Lank lank gelede het ek een van die briljantste flieks van alle tye gesien: Love and Human Remains. Dit is die fliek waarin o.a. die volgende gesprek plaasvind:
“I have never met someone born after 1980 who wasn’t seriously fucked up.”
“Why do you think that is?”
“Microwave ovens, I think.”
In ’n ander gesprek oor hoekom die wêreld so verkeerd is, teoretiseer iemand dat dit Chernobil se skuld is.
“No, I think it’s the Christians,” antwoord sy vriend.
3 comments April 25, 2006
Wat ek die naweek gedoen het. Nr 3981.4
Geslaap.
Want ek kan.
Hahahahahahahahahahahaha
Add comment April 24, 2006
Stating the Obvious
“What are we going to do tonight, Brain?”
“Same thing we do every night Pinky. Try to take over the world.”
1 comment April 23, 2006
Favourite Movie Moment II

Fliek: Pirates of the Caribbean
Toneel: Die eerste keer wat ons vir Captain Jack Sparrow sien. Hy kom die hawe ingeseil, trots, fier en regop op sy boot se mas. Dan kyk hy af… spring van die mas af en begin water uit die boot gooi. Die laaste entjie tot by die pier staan hy weer op die mas, onkreukbaar [bestaan daar so 'n woord en wat beteken dit nou weer?], totdat hy van die sinkende skip afklim sonder om ‘n oog te knip.
Add comment April 22, 2006
Die Skandes van die Onderbewussyn
Ek het reeds in ‘n vorige post verwys na my drome. So droom ek ‘n paar nagte gelede van die volgende produk:
(Hierdie is nie ‘n akkurate weergawe van die verpakking nie. Dis die beste wat ek met MS Photodraw kon doen.)
Monkey Ass Beedis (ass nogal, nie eers arse nie).
Jy rook hierdie handige beedi’s wanneer jy regtige warm, spicy kos geëet het. Dit maak die tweede rondte heerlik koel en gemaklik.
Nou wat, vra ek jou, wát laat my so iets droom?
2 comments April 21, 2006
Einde
Maar in my hart is daar geen smart meer -
ek het die sweeties na binne gestuur. 
Add comment April 20, 2006
Vir prof
‘n Meer:
‘n Ander meer in die lente: 
‘n Foto wat vriend David van sy takbokke geneem het: 
Add comment April 19, 2006
Egg Salad Sandwich
Ek besef hoe gevaarlik my odes aan naweke kan wees. Ek herinner myself aanmekaar aan die toneel uit The 40 Year Old Vigin waar hy sy naweek – en sy poging om ’n egg salad sandwich te maak – beskryf. Maar:
Ek het hierdie naweek:
Kerk toe gegaan (drie keer, want dit was Paasnaweek);
Gesauna* (twee keer);
Heerlike forel geëet;
In die stad rondgedrentel;
Heerlike gegeurde tee, met roosblare en moerbeie, gekoop;
Saam met mense van Libanon, Indië, Nigerië en Ghana gekuier;
Die See van Bothnia besoek (dis deel van die Baltiese see);
’n Gevriesde see gesien!
Piekniek gehou in die sneeu by die see.
Ninnies afgevries**.
*Die foto het, om voor die hand liggende redes, nie mense by nie.
**Aangesien niemand my nog kon antwoord oor die ninnies nie, en aangesien ek my ninnies afgevries het.
2 comments April 18, 2006
Dís mos hoe mens Paasfees vier
Vergeet van nare marshmallow eiers. Dís hoe mens Paasfees vier: met ‘n paaseier vol lekkernye wat ‘n geliefde vir jou persent gee. God Päsk!
Add comment April 16, 2006
Holy Indifference
Goeie Vrydag. Ek sit in ’n kerk in Swede. Dis lank, vervelig en geen enkele woord daarvan maak vir my sin nie. Dejá vu.
Om die tyd te verwyl, sit en lees ek ’n boekie oor die “Pearls of Life” (gebedskrale). En daar beleef ek serendipity:
Ek het nog altyd gedink die idee van swaarkry wat deel is van godsdiens, is effens siek. Soos die storie wat ek op skool gehoor het, van drie vroue wat êrens gaan sendingwerk doen het. Die bose pagans het duidelik nie gehou van hul boodskap nie, so die vrouens is in ’n put gegooi, net groot genoeg vir al drie om te staan. Daar het hulle vir dae lank gestaan en lofliedere sing, terwyl hul voete begin vrot in die water onder in die put. Ek vermoed die storie het een of ander gelukkige einde gehad, met ’n morele lessie om saam huis toe te neem. Maar ek kon nie verby die lofliedere terwyl jou voete vrot kom nie.
Dan is daar natuurlik ook nog die “aartappelskille” storie. Die een keer wat ek probeer het om Radio Kansel te luister, word ek onderwerp aan ’n vrou se getuienis: “En ons was so dankbaar vir die aaaaartappelskille”.
Nou, ek kan aanvoel dat daar op ’n manier, êrens diep onder die foei-tog-arme-kind-van-die-Here sindroom, iets van die waarheid skuil. Maar dit bly deeglik buite my bereik.
Wat my bring by die Pearls of Life, en meer spesifiek, die vierde kraletjie: die “pearl of practice”, wat insluit “ascetism, trial, tribulation”. Practice. Hmmm. Nou dít maak vir my sin.
Net na practice, is die kraletjie van “serenity” – dit wat die vroeë kerk soms “holy indifference” genoem het. “This is the reward, true freedom. It is as if nothing depended on me. This is courage and passion.”
Holy indifference. Wat ’n wonderlike dissipline! Definitief een wat ek gaan inoefen vir die volgende jaar (of 10).
Add comment April 15, 2006

