Afrikaners is onplesierig

Maart 16, 2006 at 5:51 nm Lewer kommentaar

So ’n paar Saterdae terug volg ek ’n link van een van my broers se websites… en bevind my ewe skielik in iemand se koninkryk vol (Afrikaanse) stories. En daar baai ek die hele Saterdag in hierdie ou se tonekrul lekker skryfvermoë. [Terloops: dit is die wonderlikste, wonderlikste ding: kom Vrydag, en hier lê ’n hele naweek voor jou oop. Om te dink daar’s mense wat hul lewens so leef: Hmmm, môre is Saterdag – of Sondag – wat gaan ek doen? En dan daardie ruimte vul met tyd vir hulself of vir die wat hulle lief is. Dink net: Sondag – na kerk, as jy dit so verkies – kan jy ’n entjie langs die see gaan ry, in die sneeu gaan stap, in ’n wildpark gaan rondry, op die dam gaan seil. Of sommer heel naweek lank weggaan. Wat ’n lewe! ’n Lewe met naweke. Wow. En daar’s mense wie se hele lewe so lyk. Naweke. Sjoe. Wat ’n briljante idee. (Ek wil nou graag ophou oor naweke, maar ek kan nie – dis net te wonderlik!)]
Elkgeval. Die website. Hierdie man skryf die briljantste stories. Ek is seker dat hy wel, soos wat hy droom, eendag ’n beroemde skrywer sal word. (Hoewel ek nie dink mooi meisies gaan, soos hy ook droom, hom vra om sy naam op hul borste te teken met ’n swart kokipen nie. Die tipe ding gebeur nie met skrywers nie. Ek sal bv nie vir Pratchett of Nataniël vra om hul name enige plek op my lyf aan te bring nie. Hoewel nie noodwendig om dieselfde redes vir albei nie.) Maar so na die tweede preek oor Klipdrift wat mens met ’n Hoofletter spel (met gepaste religieuse respek, lyk dit my) en die verwysings na Sodwana en Loftus en die tieners wat nie weet hoe om hul Taal suiwer te praat nie, begin ek wonder: wat presies beteken dit om ’n Afrikaner te wees?
Kyk, almal wat my goed ken weet dat dit al lánkal vir my ’n issue is (‘skuus, kwelpunt). Ek wil wéét wat dit beteken om ’n Afrikaner te wees. Ek soek my eie kultuur, ek wil dit ken en verstaan. En bowenal: ek wil trots wees daarop. Ek wil kan sê “Ek is ’n Afrikaner”, sonder om te voel ek moet dit saggies fluister of giggel. Maar ek weet nie lekker wat dit beteken om te sê “Ek is ’n Afrikaner” nie.
So beland ek mos jare gelede, in ’n vorige lewe, by ’n Rapportryers byeenkoms. (Ek is jammer, dit was per ongeluk. Vergeef my, ek het nie geweet wat ek doen nie.) En raak, in my jeugdige dwaasheid, betrokke in ’n gesprek oor wat dit beteken om ’n Afrikaner te wees. Wie is Afrikaners? Wanneer is jy ’n Afrikaner? Die antwoord wat ek toe gekry het, onthou ek helder: Jy is ’n Afrikaner wanneer jy Afrikaans praat, rugby kyk, braaivleis eet en aan die NG kerk behoort. Op daardie stadium het ek nog aan myself gedink as ’n vegetariër (dankie tog ek het daardie idee laat vaar!). Ek het nog net twee keer in my lewe ’n rugby wedstryd gekyk, en die een keer het ek vir die verkeerde span gecheer (‘skuus, gejuig) omdat ek nie besef het na halftyd druk die ander span onder daardie pale drieë nie. En ek vind die idee dat kerk en volk aan mekaar verbind word tot vandag toe nog offencive to the extreme (‘skuus, so afstootlik dat ek kan braak). En hierdie hele ding (en alle ander verduidelikings wat ek sedertdien gekry het oor wat dit beteken om ’n Afrikaner te wees) klink elkgeval vir my baie phallosentries. Dalk moet ek eerder vra: hoe is mens ’n Afrikaner vróú? (Maar ek’s te bang. Ek sidder as ek dink wat die antwoord dáárop gaan wees. Ek sukkel soos dit is genoeg om ’n goeie Afrikaner te wees. Haha. Ek dink nou ewe skielik aan die pamflette wat een van my klasmaats op skool vir sy meisie – my vriendin – gegee het. Oor hoe mens ’n goeie Afrikaner is. “Dis die Afrikaner vrou se plig om vir haar man te sorg en nog boere in die wêreld in te bring, hulle groot te maak om trotse boere te wees” bla bla bla. Was voordat Eugene tronk toe is.)
Maar my vraag bly staan: is dit regtig wat dit beteken om ’n Afrikaner te wees? Braaivleis en Klipdrift en fok sê en boeremusiek en rassisme en ’n terminale arrogansie dat óns reg is, dat alles ánders aan óns gemeet moet word. O ja, en Grafsteensangers en Rageltjie de Beer en ander helde wat mánhaftig hul lewens vir hul volk afgelê het. Snik snik. Ek sluit dus hierdie tirade af met ’n aanhaling van Die Wit Rus:

“Slenter-slap-slordig staan hy tussen die gierige winkeltrosse,
sy labels is sy rotsdie poppe agter glas wat rande lok,
net so dood soos sy trots
Met onbeperkte vryheid betaal hy die vriendskap wat hom dien
donkerbril op die kop het nog net sterlig gesien
Hy is die lankverlore seun van Potgieter, Pretorius en De la Rey
dink dis normaal om vrede en aalmoese verniet te kry
Hy weet nie hoe lyk ´n Sanna of ´n ossewa
hy weet nie wie was ons helde, nog nooit ´n R1 gedra
Sy pa se geld brand in sy sak – sy enigste vlam van respek
dieselfde vlam wat later smeul in die bottel se nek
Getrip met ´n geverfde fishnet aan die sy
het hy vergeet die glorie van sy volk is verby

Gaan spoel die arrogansie uit jou hare en trek op jou broek
betaal jou slawe met respek,
soek die boer wat in jou hart roep
Jy´s ´n afrikaner, ´n trekker,
´n verkenner van formaat
besef dit net en weet,
daar is mense wat jou sal haat
Vir die dinge waarvoor jy opstaan
sal jy moet veg
dis moeilik as die reëlmakers verkeerd is
en jy is reg”

Viva!

Advertisements

Entry filed under: Uncategorized.

spelreëls Drome op snooze

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

Trackback this post  |  Subscribe to the comments via RSS Feed


Feeds


%d bloggers like this: