Archive for Desember, 2006

Donderdag


Ek het ook die oulikste video van bogenoemde drie wat aan hul ma (probeer) drink, maar ek

kon ongelukkig nog nie uitwerk hoe om video’s van die kamera af te laai nie.
(Bogenoemde foto is spesiaal vir Do Kwang – dit moet sekerlik een of ander rekord wees dat iemand in drie posts in ‘n ry na hom verwys! Ek blameer die feit dat dit nog net ons en Johan Swarts is wat leef in hierdie hoekie van die blogosfeer. Of is dit dalk sy onweerstaanbare sjarme en algemene eruditeit?)

Desember 30, 2006 at 8:21 vm 14 Kommentaar

Mampara van die Dekade

Do Kwang inspireer my om nog ‘n Mampara te nomineer – hierdie keer die Mampara van die dekade:

Koning Goodwill [sic] Zwelethini

Desember 29, 2006 at 10:14 nm 2 Kommentaar

My kultuur en jou kultuur…

Do Kwang druk sy vinger op ‘n senuwees wat vir my nogal rou is.

Ek doen navorsing oor seksuele geweld. Wat beteken dat ek dikwels die “my kultuur/ander kultuur” stryd met myself voer. Kan ek werklik sê iemand anders se kultuur is verkeerd, bloot omdat dit anders as (of dikwels lynreg teenoor) my eie kultuur is? Kan ek waarde-oordele uitspreek oor goed wat ek eenvoudig nie verstaan nie?

Want ek verstaan dit nie! Ek kan dit net beoordeel vanuit my eie (kultuur-bepaalde) verstaan van die werklikheid. Ek kyk altyd vanuit my eie kultuur na ‘n ander kultuur. So sukkel ek byvoorbeeld om te verstaan hoe lobola vroue bemagtig, terwyl heelwat mense wat lobola praktiseer(?) my verseker dat dit juis tot voordeel van die vrou is. En ten spyte van verskeie gesprekke met Moslems, kan ek nog steeds nie insien hoe die Burqa geslagsgelykheid bevorder nie.

Iemand het ‘n tydjie terug gesê dat Suid-Afrikaners se taak voorheen was om uit te vind wat ons “ons” maak. Ons taak nou is om uit te vind wat ons verskillend maak – wat ons, terwyl ons “ons” is, tog ook Afrikaner, Zulu, Xhosa maak. Ek sou aanneem dit veronderstel dat ons dit ook kan regkry om die verskille in ons onderskeie kulture te respekteer.

Ek was nog op skool toe daar skielik ‘n vlaag verkragtings op die kampus van ‘n sekere universiteit aan die Skiereiland was. Tydens ‘n gesprek wat deur die studenteraad gereël is, het ‘n swartman opgestaan en gesê dat daar niks verkeerd is met verkragting nie – dis deel van sy kultuur. Waarop ‘n Afrikaanse outjie geantwoord het: “Apartheid is deel van my kultuur. Dit maak dit nie reg nie.”

So, wanneer is my onvermoë om een kultuur se waardes te versoen met my eie, rasisme, ‘n nadraai van die arrogansie van kolonialisme, en wanneer is ‘n ander kultuur net eenvoudig verkeerd?

Desember 29, 2006 at 12:50 nm 6 Kommentaar

Mampara van die Jaar

Volgens die Sunday Times is Jackie Selebi die Mampara van die Jaar.
Ag nee wat. Hy kom nie náby Jacob Zuma nie.
Hierdie blog se Mampara van die Jaar dus:

Jacob Zuma!

Desember 27, 2006 at 11:45 vm 6 Kommentaar

Kersfeeswense in ‘n leë blogosfeer

Aan alle Christene wat hier lees:

Mag jy ‘n besonder geseënde Kersfees hê in die wete dat God met ons is.

Aan alle nie-Christene wat hier lees:
Mag die banaliteit van die feesvieringe jou nie depressief maak nie, maar mag die oordaad en plastiek verdwyn te midde van ‘n oordaad liefde.

Desember 24, 2006 at 11:16 vm 8 Kommentaar

Bond, Duck Bond

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek sal een van die dae weer iets nice sê, ek belowe. Maar nie nou nie.
Ek is, om verskeie redes, nie ‘n James Bond fan nie. Op etlike bloggers se aanbeveling het ek egter my vooroordele in my sak gesteek en Casino Royale gaan kyk.
Ag nee, regtig.
Die feit dat die grootste deel van die fliek bestaan uit poker (yawn) kan ek nog verwerk. Ek het bietjie gesukkel met die trok vol jetfeul – jetfuel! – wat deur ‘n bus jaag sodat die bus ontplof (maar nie die jetfuel nie), die trok waarop daar geskiet word sodat die jetfuel in strome daaruit loop… maar nie ontplof nie.
Die hoof van die huis was ontsteld omdat daar geen kaal boobies in die fliek was nie. Gelukkig is daar ‘n kaal James Bond. Ongelukkig lyk laasgenoemde soos ‘n opgeblaasde balon. Ek ken geen regte vrou in ‘n regte verhouding wat dink dis mooi nie. Persoonlik hou ek van ‘n sagter, natuurliker lyf. (Ek is bv. mal oor die hoof van die huis se sixpack wat hy my belowe hy het. Hy beweer hy steek dit net weg onder ‘n lagie vet.)
Ek wonder of die fliek se proefgehoor nie ook almal gesit en lag het terwyl arme Bond gemartel word nie – soos wat almal in die fliek waar ek was wel gedoen het.
Met al bogenoemde kan ek nog vrede maak.

Photobucket - Video and Image Hosting
Kwaak Kwaak

Waarmee ek egter nie kan saamleef nie, wat my die hele fliek lank gegrief het, wat my laat gril en voel ek wil die arme karakter net klap, is daai lippe. Kan iemand asb die persoon wat kollageen inspuitings vir mense se lippe uitgevind het, gaan skop? Dis erger as Keira Knightley! James Bond lyk die hele tyd soos ‘n eend. In tonele waar hy veronderstel is om dapper en beslis te lyk, lyk hy asof iemand sy lippe in ‘n klamp vasgeskoef het. Wanneer hy hartseer moet lyk, lyk hy soos die bewyse van my ma se dreigement dat jou gesig so gaan bly staan as die horlosie slaan. Wanneer hy sexy moet lyk, lyk hy soos ‘n, wel, eend. En eende is nie sexy nie!

Desember 22, 2006 at 11:11 vm 8 Kommentaar

Happy ever after.

Photobucket - Video and Image Hosting

Ek het ‘n probleem met troues. ‘n Groot probleem. So groot dat ek in die reël probeer om nie die goed by te woon nie.
Nie dat ek ‘n probleem het met die huwelik nie. Wel, nie meer nie. Daar was ‘n tyd wat ek gevoel het om te simpatiseer wanneer mense verloof geraak het. Sedert ek egter geseën is met hemel-in-getroude-suburbia, is ek nogal bly wanneer mense vir wie ek lief is ook hierdie tipe liefde vind.
Maar troues…
Dit voel vir my asof dit ‘n hele lang seremonie is vir die vrou om haar lewe prys te gee, om op te hou bestaan, sodat sy die res van haar lewe kan leef as “Mev. Piet Poggempoel”. Vir oulaas maak ons ‘n groot fuss oor haar, sodat sy nie te erg ontsteld sal wees wanneer sy die res van haar lewe voortbestaan as iemand se vrou nie. (Interessante brokkie inligting: in Rusland mag vrouens nie lag op hul troufoto’s nie. Hulle moet hartseer lyk, omdat hulle hul vryheid prysgee en vir die res van hul lewens hul mans moet versorg.)
So was ek hierdie week weer by ‘n troue. Pragtige seremonie vir twee pragtige mense. Ek het as getuie gedien terwyl die man beloof om sy bruid te versorg, beskerm, lief te hê, om te sien na, en nog bla bla bla. Die bruid beloof om aan hom onderdanig te wees en haar lewe volgens syne te rig.
Is ek al mens wat dink dis absurd? Is ek al mens wat raaksien wat gebeur? Is ek al mens met wie vrouens van 40+ praat oor hoe hulle hul identiteit verloor en ophou bestaan het toe hulle getroud is? Is ek al mens wat my flippen Bybel lees?! (Ek sê “flippen” omdat dit bietjie erg sal wees om die ander “f” woord vir die Bybel te gebruik.) Of dalk is daar ‘n drukfout in my Bybel waar daar staan dat man en vrou aan mekaar moet onderdanig wees.
But I digress. Nadat ons bekend gestel is aan Mnr en Mev Poggempoel (want natuurlik kan sy nie eers haar náám behou nie), kondig die pastoor aan dat die paartjie vir mekaar gaan nagmaal bedien. Ek het nog nooit verstaan hoekom mense nagmaal gebruik by hul troues nie, maar ek het ook nog nooit verstaan hoekom mense Bryan Adams se “Everything I do” speel by troues nie, so each to their own. Ek was egter verstom toe ek sien hoe hulle “mekaar” met die nagmaal bedien: hy breek die brood, gee vir haar ‘n stukkie en eet self ‘n stukkie. Daarna gee hy vir haar ‘n slukkie wyn en neem self ‘n slukkie. Sy ontvang, hy gee.
Gelukkig het hulle nie kerse doodgeblaas soos wat sommige se ongelukkige gebruik is nie.
Ek wonder hoe ‘n troue van twee gay vroue of mans gaan lyk? Dalk gaan die gays ons (ook) hier help om juis vir ‘n slag die Bybel ernstig op te neem en om te ontdek dat twee mense wat mekaar liefhet, mekaar dien – as gelykes.

Desember 21, 2006 at 12:29 nm 15 Kommentaar

Older Posts


Feeds